Naäman se vrou het ‘n klein dogtertjie as diensmeisie – die kind kom uit Israel en sy ken vir Elisa en sy weet van die wonderdade wat Elisa in die Naam van die God van Israel, YHWH Elohim, doen. Sy beveel aan dat Naäman na Elisa toe gaan in Samaria, want daar sal hy genesing vind vir die melaatsheid wat hom verteer.
Naäman maak eers ‘n draai by sy koning, en die stuur hom met ‘n brief weg – direk na die koning van Israel. En wat gebeur toe?
2Ki 5:5 En die koning van Aram sê: Gaan dan, ek wil ‘n brief aan die koning van Israel stuur. En hy het gegaan en tien talente silwer en ses duisend sikkels goud en tien stel klere saam met hom geneem, 2Ki 5:6 en aan die koning van Israel die brief gebring van die volgende inhoud: Saam met hierdie brief aan u stuur ek dan nou my dienaar Naäman na u toe, dat u sy melaatsheid kan wegneem. 2Ki 5:7 Sodra die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: Is ek dan God, om dood en lewend te maak, dat hierdie man na my stuur om van ‘n man sy melaatsheid weg te neem? Erken en sien tog net hoedat hy ‘n geleentheid teen my soek. 2Ki 5:8 Maar toe Elísa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, laat hy die koning weet: Waarom skeur u u klere? Laat hom maar na my kom; dan sal hy weet dat daar ‘n profeet in Israel is.
Dink ‘n bietjie oor die reaksie van hierdie koning van Israel. In die eerste plek skeur hy sy klere. Die mense van daardie tyd het hulle klere geskeur wanneer hulle in rou was, of groot neerlaag op watter vlak ook al beleef het. ‘n Vader het altyd sy kleed geskeur van onder sy ken tot op die grond, wanneer sy seun gesterf het. Die skeur van die klere het uitdrukking gegee aan rou en ellende.
Maak gou die “movie” en beleef die verwagting waarmee Naäman by die koning van Israel aankom … en hier spring die koning op en begin om sy klere te skeur! Naäman moes gedink het – nou wat nou!? Hier gaan ek nie gehelp word nie.
Boonop verdink die koning van Israel die koning van Aram daarvan dat hy hom in ‘n soort lokval probeer lei. En Naäman se onmag moes net groter in hom opgestaan het.
Wat is die groot hartseer van hierdie situasie? Die koning van Israel dink eerstens net aan sy eie bas – tot die punt dat hy skoon vergeet om te onthou dat Israel die enigste volk van sy bekende wêreld was, wat bekend was met die enigste Lewende God!! Die Skepper God wat wonders gedoen het. Hierdie man het op daardie oomblik skoon vergeet van die bestaan van YHWH Elohim.
Verder wil jy dink hy moes mos kon sien dat die man by hom waarlik melaats was. Hy was in nood. Maar sy eie benoudheid, sy eie nood, was so groot, hy kon die man voor hom se nood nie raaksien nie! Wat ‘n ellendige plek om te wees. Kan enige mens so intens net vir homself leef! Of gebeur dit vandag ook, ook met my en jou?
Ja daar is geweldige sosiale nood in die lewe om ons. Nie net by mense wat in plakkerskampe woon nie, maar ook mense om ons, in ons buurt en vriendekring beleef mense nood wat hulle nie eers altyd die moed het om uit te sê nie. Ons kan nie vir almal aalmoese uitdeel nie, ons kan nie almal beraad wat hulp nodig het nie, ons kan nie op elke volgende komitee dien om te probeer uitreik nie … Ek en jy kan eenvoudig nie almal help nie, maar ons moet leer om te onthou dat ons ‘n Vader en ‘n Verlosser in Jesus Christus het, wat wel kan help.
Kom ons leef in die eerfste plek met die onthou van: “God is good and He wants to do us good” Jesus HET gekom vir ALLE mense By GOD IS ALLE DINGE MOONTLIK
Leer dan (weereens!) die stem van God ken, leef met ‘n bewustheid van jou omgewing, leef dan in gehoorsaamheid jou skeppingsdoel uit, want almal van ons word ook nie geroep om op dieselfde manier te dien nie.
Belangrikste van alles – leef met die wete dat God leef en dat Hy alles weet.