Dit was Kain wat homself met die vraag verweer het – “Is ek my broer se hoeder?” – en dit nadat hy geweet het dat hy sy broer doodgeslaan het. En Kain moes sy eie pad loop. Hy moes ontdek dat daar niks is wat jy vir die Almagtige kan wegsteek nie en dat elkeen vir sy eie pad moet verantwoording doen.

Nou wil ek vandag die gedagte in trurat gooi – tot watter mate is ek en jy besig om vir ander mense verantwoordelikheid te aanvaar? Is ek besig om myself op te rig as “my broer se hoeder” en in die proses kom ek dalk in die gewoonte om myself verantwoordelik te hou vir dit wat met “my broer” gebeur?

Ons moet passop! Hierdie situasie kan ons striem in ons groei in Christus. Mens raak so bekommerd en betrokke en jy maak planne en jou ganse gebed begin draai om hulle vir wie jy verantwoorde-likheid aanvaar. Dit kan ons selfs pootjie omdat ons as klein god’tjies begin optree en onwetend die spil word om wie ander hulle probleme begin draai. Onthou wat Paulus leer in sy brief aan die mense van Fillippie in Fil 2:12

“Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;”

Elke persoon moet sy eie heil uitwerk!! Elkeen is self verantwoordelik vir sy eie keuses en besluitneming. Ja mens gee raad en jy luister en spreek in ander se lewens wat Vader jou opdrag gee om te doen, maar jy word nie verantwoordelik vir ander se keuses nie!! Anders kan vers 13 van dieselfde hoofstuk ook nie vir ander waar word nie: “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”

Dis dan sommer net kosbaar om te onthou wat hierdie twee verse voorafgaan – laat mens net weer besef – die belangrikste wat ons vir mekaar kan bid, is dat elkeen self sy knie voor Jesus sal buig en self, uit eie oortuiging, sal bely waarom Jesus Here van sy lewe is!! Kom ons maak dít ons verantwoordelikheid. Verder, is ons veronderstel om mekaar lief te hê, onvoorwaardelik!! En dis dit.

“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”         Fil 2:9 – 11

Delf Dieper

Kontak

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)83 292 5663

este@estegeldenhuys.co.za

Ekstra Skakels

Nuusbrief Aansluit