JY KAN NIEMAND SE KOP DRAAI NIE

 

Jesus het gekom en Jesus het gegaan … en Hy het vir ons die Trooster gestuur. Hierdie Trooster, Parakletos, word vir ons ‘n advokaat en berader en intersessor, maar Hy word ook vir ons ‘n rigtingwyser en ‘n vredemaker.

 

Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:

                                                                                    Johannes 16:7 – 8

Staan ‘n oomblik stil by hierdie waarheid:

en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:

Let op dat die Trooster, Heilige Gees, die wêreld sal oortuig.

 

Ken jy die verhaaltjie van die wind en die son wat met mekaar ‘n weddenskap aangegaan het? Die wind het beweer dat hy dinge vinniger en makliker gedoen kan kry as die son. Hulle sien toe ‘n man stap met ‘n jas aan. Die wind het geweet dat hy baie vinnig daarin sal slaag om die man sy jas te laat uittrek as wat die son dit kan doen. Hy het begin blaas en stoot en ruk aan die jas, maar die man het die kraag hoër teen sy nek opgeslaan, die knope almal toegeknoop en die pante van die jas teen sy lyf vasgedruk.

 

Nadat die wind ‘n hele ruk probeer het, het hy gaan lê en die son en suutjies al warmer begin neerbak op die man in sy jas. Sonder enige gestoot of gestoei. En natuurlik. Dit was nie lank nie of die man het die jas uitgetrek en selfs sy hemp se moue begin oprol.

 

Geen mens kan ‘n ander mens se kop draai nie. Ons word soos die wind wat ruk en pluk sonder om enigiets te vermag. In die proses is die skade wat ons in ons verhoudings veroorsaak, veel meer as enige moontlike sukses daarin om redelike denke te beïnvloed. Paulus leer in sy skrywe aan die gemeente in Rome:

Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.                                                                                                          Romeine 13:8

 

Beleef jy dat ‘n geliefde of naaste regtig met hulle gedagtes in ‘n verkeerde rigting op pad is en jy wens hulle kon net die lig sien? Moenie die rol van die wind oorneem nie. Laat die liefde van Christus rustig in die verhouding inskyn.

 

Hou liewer jou oog op jou eie getuienis. Maak seker dat jy nie dubbele boodskappe oordra nie. Hou jou eie gesindheid dop. Lééf liefde en verklaar jou afhanklikheid en onderdanigheid aan die Trooster. Laat Parakletos toe om die vrede te koester en volg die rigting wat Hy aanwys.

 

Beteken dit dat mens glad nie van mekaar mag verskil nie? Nee. Verseker nie. Maar dis goed om te hou by die reël om jou opinie te gee wanneer iemand daarvoor vra. En om jou argumente te stel sonder aandrang dat die ander rolspelers sal glo presies wat jy glo.

Delf Dieper

Kontak

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)83 292 5663

este@estegeldenhuys.co.za

Ekstra Skakels

Nuusbrief Aansluit