2Ki 5:1  En Naäman, die leërowerste van die koning van Aram, was ‘n groot man voor sy heer en hoog in aansien; want deur hom het die HERE aan die Arameërs ‘n oorwinning gegee; en die man was ‘n dapper held, maar melaats. 2Ki 5:2  En die Arameërs het in bendes uitgetrek en uit die land van Israel ‘n klein dogtertjie as gevangene weggevoer wat in diens van Naäman se vrou gekom het. 2Ki 5:3  En sy het vir haar meesteres gesê: Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaría is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem. 2Ki 5:4  Toe gaan hy in en gee dit aan sy heer te kenne en sê: So en so het die dogtertjie gespreek wat uit die land van Israel kom. 2Ki 5:5  En die koning van Aram sê: Gaan dan, ek wil ‘n brief aan die koning van Israel stuur. En hy het gegaan en tien talente silwer en ses duisend sikkels goud en tien stel klere saam met hom geneem, 2Ki 5:6  en aan die koning van Israel die brief gebring van die volgende inhoud: Saam met hierdie brief aan u stuur ek dan nou my dienaar Naäman na u toe, dat u sy melaatsheid kan wegneem.

Let op die interessante opstapeling van feite in vers een van 2 Konings 5: Naäman, die leërowerste van die koning van Aram, ‘n groot man en hoog in aansien, ‘n dapper held … maar melaats. Moet ook nie die gedeelte miskyk “want deur hom het die Here aan die Arameërs ‘n oorwinning gegee”. Dis of mens van meet af aan weet dat God van Naäman weet op ‘n manier wat sê – My plan vir jou lewe sal in vervulling kom. Naäman is duidelik ‘n uitsonderlike man. Groot in statuur, karakter en oorlogsrekord. Hoog ge-ag by sy koning. Teenoor Naäman staan die klein meisietjie wat uit Israel weggevoer is en sy vrou se slavin geword het. ‘n Kind wat nie uit bitterheid alles om haar wil breek of ignoreer nie, maar een wat omgee vir haar nuwe “huismense”.  En let op, haar versugting is baie spesifiek dat haar heer “by die profeet wat in Samaría is” kan uitkom, want dan sal hy genees van die melaatsheid.

Wanneer  Naäman die saak met sy koning bespreek, is daar in die koning se kop net een roete – reguit na die koning van Israel toe, gewapen met ‘n brief van een koning aan ‘n ander.

Wat het hier gebeur? Die kind het duidelik gepraat van “die profeet van Samaria”. Het hulle daardie stukkie nie gehoor nie? Of is dit ‘n soort gewoonte – ‘n koning praat net met ‘n koning. ‘n Houding wat vra dat jy hulp soek by die wat op jou vlak van die samelewing opereer, verseker nie laer as dit nie. Of was dit eenvoudig die grondslag van hulle manier van dink, dat ‘n koning gesag het oor alles en almal oor wie hy aangetsel is.

Delf Dieper

Kontak

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)83 292 5663

este@estegeldenhuys.co.za

Ekstra Skakels

Nuusbrief Aansluit