Verlede week het ek verwys na wat Charles Slagle in sy boekie “From the Father’s heart” geskryf het oor die belangrikheid daarvan om God se stem te ken. Die stem van God is ons enigste roetekaart na Sy wil vir ons lewe en meer nog, die detail wat elke dag vir ons inhou! YHWH Elohim het ‘n plan met ons lewe. Hy is met elkeen van ons op pad – al voel dit soms nie so nie – Hy weet waar Hy ons heen wil laat groei sodat ons steeds die bydrae kan maak wat Hy vir ons beplan het reeds voor die grondlegging van die aarde!!

 

Slagle noem twee dinge:   Dat ons ‘n wilsbesluit sal neem om te luister na ons eie hart. Slagle gebruik drie woorde – “he must choose, will and decide to listen to his heart.” Dat ons dan ‘n wilsbesluit sal neem om te reageer op wat ons ervaar, wat ons glo die Almagtige met ons praat.

 

Maar dan kom daar ‘n derde ding by: Dat ons die integriteit van die Almagtige genoegsaam sal vertrou, sodat ons bereid sal wees om te volg waar Hy ons lei.

 

Is dit nie waar ons eintlik moeilikheid optel nie? Glo jy dat God met jou wil en kan praat? Glo jy dat jy Sy Stem reg en raak kan hoor? Gló jy Hom!? Glo jy dat Hy kán en sál dóén wat Hy met jou praat? Dat Hy sal deurvoer dit wat Hy jou vra om vir Hom te begin? Elke keer wat ek ‘n toer na Israel bespreek, moet ek van voor af glo dat Hy die getalle vir my sal vol maak. Dit het nog nooit makliker geword nie! En Hy maak dit elke keer weer vol – want ek doen dit net omdat Hy my gevra het om dit te doen, nie omdat ek dit gekies het nie. Elke keer wat ek kom sit om verder te werk aan die boek wat Hy my gevra het om oor Sy Name te skryf, moet ek van voor af wéét dat dit nie ek is wat dit doen nie, maar dat YHWH Elohim Self die boek deur my skryf. Daar is ‘n konstante onthou dat dit Hy is wat in beheer is en nie ek nie. Die oomblik wat ek daardie onthou verloor, twyfel ek!!

 

My oplossing vir hierdie wipplank tussen glo en twyfel? Lofprysing! Vervang elke gedagte van twyfel met  lof aan die persoon van die Almagtige. Loof Hom vir Wie Hy is en dit verdryf alle spookgedagtes.   Dan alleen kan Matt 13:16 en 17 ook vir ons waar word: “Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.”

Vader! Baie dankie dat dit is wat U vir ons in gedagte het!!  Vader ek begeer om waarlik u stem te ken en om afhanklik van U inspraak in my lewe, te lééf! In die Naam van Jesus bid ek – leer my! Help my om dit bewustelik te oefen tot dit my diepste manier van leef is!! En vader, ek begeer om U te glo elke keer wat U praat. Begelei my seblief ook op die pad van geloof in U. Ek loof U Naam, Almagtige, Alwetende Lewende God!

Delf Dieper

Kontak

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)83 292 5663

este@estegeldenhuys.co.za

Ekstra Skakels

Nuusbrief Aansluit