Vandag (Maandag 1 April 2013) ‘n week gelede het ons geland in SA na twee weke van toer in Israel. Wat ‘n wonderlike belewenis was dit nie! Ons is uit Israel weg die dag voordat hulle Paas-vieringe begin het. Hierdie naweek het ons ook in Suid-Afrika die Paasgebeure herdenk met die klem op die Goddelike Paaslam wat die sonde van die ganse mensdom kom wegneem het, wat gestref het, begrawe is en wat opgestaan het uit die dood. Die graf is leeg. Jesus LEEF! En ons kan in oorwinning in Hom leef!

Vorige jare was ek in Israel tydens die viering van Paasfees daar. Hulle maak mos intens skoon voor Paasfees. Alle suurdeeg en suurdeeg-verwante produkte word uit hulle huise gegooi. In sommige woonbuurte het hulle selfs halwe dromme op sypaadjies. Hulle maak vuur in hierdie dromme en verbrand alle suurdeeg produkte wat hulle uitgooi. Verder maak hulle ook intens huis skoon, werk selfs die klein hoekies deur met ou tandeborsels!! Alle kaste word leeggemaak en skoongemaak en alles skoon terug gepak. Hulle maak waarlik skoon.

Merkwaardig. Mens sal nie aan “opgaar en deurmekaar” skuldig raak as jy hierdie Joodse gewoonte een maal ‘n jaar toepas nie!

Nog meer merkwaardig is die gedagte dat hierdie uiterlike skoon, in die eerste plek innerlik toegepas moet word!!

Merkwaardigste van alles is die wete dat dit presies is waarvoor ons Messias 2000 jaar gelede aan die kruis gesterf het! Ons het nie nodig om ons binneste met ‘n tandeborsel by te kom, of om sekere dinge fisies op ‘n vuur te loop uitpak nie.  Maar ons moet ontdek hoedat die WAARHEID, wat Yeshua Self is, ons binneste met ‘n baie deegliker fynkam as ‘n tandeborsel, kan skoonvee. Ons moet weet dat die wonder van die vuur van die liefde van Jesus, nooit ophou brand om totaal te verbrand alles wat ons bereid is OM VOOR HOM TE BELY NIE.

Ja, ons dien ‘n God wat Enig is daarin dat Hy die Enigste God is wat Homself vir Sy onderdane gegee het, en dit tot in die dood toe, sodat die wat in Hom glo, kan lewe. Geen ander god het dit gedoen nie.  Maar hierdie Goddelike geskenk gaan my nie by ‘n lewe van oorwinning bring, as ek nie leer om Hom met my eie, volle  WAARHEID te dien nie, en as ek nie leer om TE BELY wanneer ek drooggemaak het, sodat ek dit dadelik voor Hom kan regstel  nie.

Volgende week sal ek stilstaan daarby om Hom in waarheid te dien en dan ook wat die belydenis behels. Lekker week vir jou – dis mos ‘n “kortwiek!”

Delf Dieper

Kontak

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)83 292 5663

este@estegeldenhuys.co.za

Ekstra Skakels

Nuusbrief Aansluit