Ek is in ‘n situasie waar ek voluit op ons Vader vertrou vir uitkoms. Nadat ek alles gedoen het wat ek kon, het die getalle vir die inskrywings vir die Israeltoer wat in Maart vanjaar vertrek, bewegingloos op ‘n sekere getal bly staan. Dit roer nie. En die getal is te min.
Verlede Maandag was ek by die werk om voor te berei vir die week se uitsaai, maar ek kon nie konsentreer nie. Die kwessie van die inskrywings van die toer was my hele kop vol. Skielik het Jes 1:18 spontaan in my gedagtes opgekom – in die Eng lees dit:
Jes 1:18 Come now, and let us reason together, says Jehovah …
En ek het dadelik begin bid met die grootste ontsag. Ek het Vader daaraan herhinner dat Hy in 2006, vyf maal my naam hardop geroep het in die strate van Jerusalem. Dit het my met soveel ontsag vervul toe ek besef wat met my gebeur, dat ek teruggegaan het na my hotelkamer om op Vader te wag. Dit was toe wat Hy my baie duidelik die opdrag gegee het om mense Israel toe te neem. Terwyl ek met Hom “reason”, het ek Hom daaraan herinner. Ek het Hom pertinent gevra of dit steeds Sy wil is dat ek mense neem, ek sal dit staak as dit nie meer Sy wil vir my is nie. Maar as dit steeds Sy wil is, wat gebeur met hierdie toer? Kan Hy my nie seblief help deur die getalle in te vul nie. Ek kan nie mense maak kom op die toer nie, maar Hy kan hulle roep en vir elkeen wat moet kom, voorsien. Maar eers wou ek seblief duidelik weet of dit steeds binne Sy wil is.
Toe onthou ek ‘n ander vers in Jesaja: Jes 7:11 Eis vir jou ‘n teken van die HERE jou God …
En toe het ek in groot eerbied vir Vader gevra dat Hy asseblief vir my ‘n teken sal gee. Die teken waarvoor ek gevra het, was dat iemand my asseblief dieselfde dag, vóór die son sak, sal bel en begin met die woorde: “Esté ek móét saam met jou op hierdie toer gaan!”
Na ek die werk by Radiokansel afgehandel het, met volle fokus hierdie keer, was ek seker so ‘n uur tuis, die son het nog hoog gesit, toe my foon lui. Dit was Veronica wat voorheen reeds saam met my in Israel was en sy het dadelik die woorde gepraat: “Esté ek móét saam met jou op hierdie toer gaan!” En sy het dit namens drie mense gesê!
Van Maandag laatmiddag tot Woensdagaand was daar oproepe wat dieselfde begeerte uitgespreek het ter wille van 24 mense! Die getal 24 is twee keer 12. Twaalf is die getal van Devine Government. Met die eerste oproep het Vader aan my bevestig dat dit steeds Sy wil is dat ek mense na Israel neem. Met die getal 24 het Hy bevestig dat Hy dubbel en dwars in beheer is. Daar is nie vir nog 24 plek nie, maar ek sien ook die boodskap daarin – Hy stuur meer as genoeg om te reageer!
En ek? Het besluit om totaal en al terug te staan en te kyk hoe Vader werk. Geen voorstelle meer nie, geen “effort” van my kant nie – ek wéét dat Hy in beheer is en ek síén hoe Hy dit doen!
Prys Sy Naam!! En Hy wil dit vir jou ook doen. Ken Sy stem. Vra Hom ‘n eenvoudige vraag en Hy sal antwoord.