WIL JY DIE SKRIF VERSTAAN?
Wie is daar onder ons wat nie begeer om die Skrif te verstaan nie? Hoe dikwels lees mens en jy regisgtreer nie eers behoorlik wat jy lees nie.
Ander kere weer lees mens maar jy lees bo-oor goed, vertsaan miskien een aspek van dit wat Jy lees maar te veel ander dinge gaan eenvoudig by jou verby en die ergste is dat mens dit nie eers besef nie.
Dan weer lees ons en weet dat ons iets raak lees wat ons werklik eenvoudig nie verstaan nie.
Met al die genoemde gedates op die tafel, wil ek weer vra – “Wil jý die Skrif verstaan?”
Bid dan die volgende gedagte wat opgeskryf staan in Lukas 24:45:
Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.
Jeshua neem afskeid van Sy dissipels en dit is die *tweede laaste iets wat Hy vir hulle doen voordat Hy opvaar. Hy open hulle verstand om die Skrifte te verstaan.
Wat ‘n wonderbare iets, want ja, op ons eie kan ons dit nie verstaan nie. Die boodskap van die Woord van God – Elohim – is immers nie ‘n geskiedenis- of wetenskap- of enige ander handbook nie. Dit is gebore uit die Gees van God en dit spreek tot die gees van die mens deur Sy Gees en deur die Gees van Christus wat in ons is. Slegs die Gees kan die Woord vir ons oopbreek.
Kyk hoe lees dit in die Amplified Vertaling:
“Then He [thoroughly] opened up their minds to understand the Scriptures,”
Kyk na die “thoroughly”. Laat ons nie met krummels tevrede wees nie. Vra vir die volle begrip van die Woord. Ek wil jou ‘n brief gee, hoe meer jy daarvoor vra, hoe meer gaan jy dit begeer en hoe beter gaan jou begrip dan weer word. En hoe beter jou begrip word, hoe meer gaan jy daarvoor vra!!
Wat is daar wat ons menswees kan voed soos die “Brood van die Lewe”, die Woord wat Jeshua, Jesus Self is!
Joh 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
Joh 1:2 Hy was in die begin by God.
Joh 1:3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Joh 1:4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
Joh 1:5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.
Dankie Here Jesus, Seun van God, dat U Self die Woord is en dat U ook my verstand wil en kan open om U Skrif te verstaan. In U Naam vra ek, doen dit asseblief vir my. Nou. Ek loof U.
*(Die laaste was die belofte van die uitstorting van die Gees).