Wil jy gesond word?
Onthou gou weer hierdie skrif-gedeelte in Johannes 5: Joh 5:2 En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ‘n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word. Joh 5:3 Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het. Joh 5:4 Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het. Joh 5:5 En ‘n sekere man was daar, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het. Joh 5:6 Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ‘n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word? Afr Ou vertaling
Elke keer wat ek met groepe mense hierdie plek in Jerusalem besoek, kom daar sulke ligte gilletjies van mense wat uitroep omdat dit so ontsaglik diep is. Wanneer daar geskryf word van ‘n bad, kry mens die beeld van ‘n hedendagse swembad in jou kop. Dis nie wat die bad van Betésda is nie, dis baie baie diep! Mens kan verstaan dat ‘n man wat nie kan loop nie, nie daar sou wou in as hy nie seker was dat hy die eerste een in die water sal wees EN genesing ontvang nie!!
Nietemin, daar is iets anders waarmee ek jou graag wil uitdaag.
Let op die woorde in vers vyf: “En ‘n sekere man was daar, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het.”
Stel jou voor! Agt en dertig jaar is daardie man elke dag daar in die hoop dat hy vandag eerste in die water sal wees. Vandag! Laat dit seblief vandag met my gebeur! Maar dit gebeur nie. Nou wonder ek … is dit moontlik dat ‘n mens kan gewoond raak aan jou omstandighede, al is dit hoe sleg. Is dit moontlik dat slegte goed ook vir ons soos ‘n “comfort zone” kan word? Jy weet … dis waaroor ek praat, dis waarom ek aandag kry van ander, dis waarom mense my onthou?
Want let op Jesus se woorde aan hom in vers ses: Wil jy gesond word?
Waarom op aarde hierdie vraag? Ek dink aan twee moontlik antwoorde:
1. Die man kon bedel terwyl hy siek was. Sy bedelaars-fooitjies was waarskynlik sy enigste bron van inkomste. Hierdie man moes eers gou in sy hart seker maak dat hy gereed was om hierdie inkomste prys te gee. Hy was nie meer jonk nie. Om op sy leeftyd ‘n hele nuwe lewe vir homself te begin bewerk, was geen geringe taak nie.
Jesus het hom dus in ag geneem deur hom hierdie vraag te vra!
2. Die tweede moontlikheid lê op ‘n meer selfsugtige vlak. Dit is moontlik dat ons so gewoond raak aan aandag en simpatie, dat ons nie meer kan aangaan sonder daardie “iets” wat vir ons geleentheid gee om die aandag van ander te geniet nie.
Hoe dikwels gebeur dit nie dat mense net bly kla en kla en kla nie. Asof daar net mooi niks in hulle lewe gebeur wat wel die stempel dra van jesus se teenwoordigheid en oorwinning nie!?
Mag ons Vader ons genadig wees dat ons elke dag in die eerste plek ons seëninge te tel. Mag ons leer hoe om Sy geestelike gawes te verruil vir wat ons beleef as swaar en sleg.
Daarmee beweer ek nie dat mens nie eerlik mag wees oor wat jy beleef nie, maar ons durf nie toelaat dat dit ons bron van aandag word nie!
Kry gerus vir jou Tania Berrege se twee boeke “Divine Exchange”. Bestel dit van haar webwerf af: