Ja die bloed van Jesus het my gered, maar nou is dit my keuse of ek Hom gaan toelaat om my van myself te red!
Die mens met wie ons elke dag die meeste praat, is onsself.
Die mens wat ons die kwaadste kan maak, is onsself.
Die mens wat ons die maklikste gehoorsaam, is onsself, en dan strook hierdie gehoorsaamheid nie noodwendig met dit wat Vader van my vra nie.
EK kan my eie grootste vriend wees, maar EK kan ook my eie grootste vyand wees! Waarom lees die tweede gebod dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself?
Waar gaan ek heen met al die gepraat? Die vorige gedagte het afgesluit op die vraag of ons nou gaan ophou om sonde te doen as ons weet dat Jesus ons gered het. Die antwoord is: “Om sonde te doen, bly ‘n keuse … ‘n keuse wat ons daagliks moet maak”. Toe Jesus se bloed aan die kruis ons gered het, het dit ons gered van die ewige dood en van ‘n posisie waar daar geen versoening is met die Vader nie.
Nou moet ons Hom daagliks toelaat om ons te red van onsself:
Ons eiegeregtigheid, om te dink dat ons reg is en beter weet;
Ons gebrek aan erkenning dat ons hulp nodig het (en so ons afhanklikheid van God ontken);
Ons hardvogtigheid en gesukkel om te vergewe en om van hardnekkige bitterheid ontslae te raak,
en weet jy, Jesus moet ons red van ons swak gewoontes en ons sielsgedrewe begeertes en ons gebrek aan selfbeheersing!
‘n Mondvol? Dink daaroor na. Dit wat Jesus aan die kruis gedoen het, was universele redding vir al die mense van alle tye. Uiters belangrik om te onthou dat Sy individuele redding ook vir my en jou beskikbaar is, maar om daarby te kom, moet ons Hom toelaat om ons uit ons ou self uit te red tot ‘n nuwe skepsel!
Gaan ek nou ophou sonde doen net omdat Jesus my gered het? Dit sal afhang van die mate waarin ek Hom toelaat om beheer oor my lewe oor te neem. Die ideaal is wel om sonder sonde te kan lewe. Besef dit en stel jou visier dáárop, anders gaan mens nie regtig in daardie rigting beweeg nie. Ons kan dus streef daarna om sonder sonde te lewe, maar dit vra vir ‘n pad van die neerlê van die “self”.