Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele. (Psalm 119:89)
Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. (Psalm 119:160)
Die ganse bestaan van die mens word binne die afbakening van TYD beheer, gereguleer, bestuur … Mens kan jou nie ons lewe sonder horlosies voorstel nie, of skedules wat op datums vasgemaak word. Tyd skep vir ons orde.
Maar nou sit ons begrip van tyd ons letterlik in ‘n boks, sodat dit regtig moeilik is om die waarheid van “ewig” te snap. Dit is dalk die maklikste om oor “ewig” te dink as iets wat nooit gaan ophou nie. Dit gaan verder terug as die steriotiepe “aan die begin” en dit hou net nooit op nie. En dit is hoe ons oor die Een moet dink wat ons aanbid wat ook Olam genoem word – El Olam – die ewige en almagtige God.
Dit is ook hoe ons oor Sy Woord moet dink. Ook Sy Woord is baie groter as tyd! Wanneer mens dít snap sal jy waarskynlik met nog groter respek omgaan met die Woord. Dink daaraan – omdat die Woord groter is as tyd, is daar niks wat in jou lewe kan gebeur waarvoor hierdie tydlose Woord nie raad, bemoediging of ‘n oplossing het nie!! Die Woord spreek die hart van die Almagtige uit. Sy hart kan nie verander nie. Daarom is die Woord altyd opreg en waar en eerlik en regverdig. Die Woord belowe oor Homself dat daar in die geskrewe Woord, skatte versteek is en alle mense van alle tye mag soek na daardie skatte – en dan belowe die Woord ook: “Wie soek, sal vind”.
Om ons met die Woord besig te hou, is om ons besig te hou met ewigheidswaarde, en ook Waarheid wat tot in ewigheid sal bly staan!
Soek jy na God? Soek Hom in die Woord.
Soek jy na antwoorde? Soek dit in die Woord.
Soek jy vrede? Soek dit in die Woord.
Hou jou neus in hierdie boek!! Die Woord van God.