Die afgelope week het ek die voorreg gehad om twee baie kosbare Seuns van Afrifka uit te saai in radioprogramme. Albei het ‘n boodskap gehad wat my geweldig bemoedig het ten opsigte van ons land. Albei die manne kom uit Negerië.
Eers was daar Olisegun Olanipekun, of net Segun. Hy het met ‘n groot, sagte glimlag vir my gekyk terwyl hy gesê het: God loves South Africa! God loves South Africa so much, He wants to establish His Kingdom in South Africa!
Toe het hy verder gegaan en verduidelik dat wanneer ‘n bouer ‘n perseel betrek om te begin bou, dit maar goed deurmekaar kan lyk. As ons dus op die oomblik in Suid-Afrika inkyk en dinge lyk erg deurmekaar, moet ons weet dat ons Vader besig is om te bou hier – Hy het reeds die plek in ‘n bouperseel omskep.
Verder herinner Segun daaraan dat die plek waar ‘n bouer begin bou, die fondasies is en as daar reeds fondasies is wat nie geskik is vir wat die Almagtige Bouer in ons geval, beplan nie, het Hy nodig om ou fondasies op te lig en uit te ruk wat nie daar hoort nie. Dan waarsku Segun verder dat hierdie proses wat ons Vader reeds begin het, lank nie klaar is nie. Ons moet in die nuwe jaar te wagte wees dat dinge nog meer deurmekaar sal voorkom, want om fondasies op te tel is regtig om ‘n plek om te krap! Maar kom ons kyk profeties daarna en bid dat ons Vader elke enkele steen en sement blok wat in die verlede verkeerd gelê is, sal verwyder. Intussen mag ons ook nie geloof verloor nie. Ons moet sterk staan. Vader is besig om Sy Koninkryk in SA te vestig. Moet dit nie vergeet nie! En ons moet bid sonder ophou!
Die tweede broer, Gbenga Adegbenro, saam met sy vrou Janet, het ‘n bediening onder Konings en Koninginne van Afrika. Hy verduidelik dat Konings van stamgroepe, outoriteit oor hulle groepe en ook die land het waarop hulle bly. Wanneer hierdie konings glo in praktyke wat afgode en voorvaders aanbid, dra nie net die koning en sy gesin nie, maar ook al die mense van sy stam die gevolge van hierdie aanbidding. Omdat daar net twee koninkryke in die geestelike realm betsaan, dien mense wat afgodery bedryf, die koninkryk van die duister. Die bediening van Gbenga en Janet is dus gemik daarop om konings en hulle huise na Jesus te sien keer sodat die koningshuis plus die mense van sy groep, kan lewe tot eer van YHWH Elohim.
Nou vertel hulle ook van meer as een profetiese woord wat hulle ontvang het waar Vader verklaar dat dit Sy plan is dat in Suid-Afrika, wat soos die voete van die kontinenet van Afrika hier in die Suide sit, hierdie bediening van konings aan hulle eie mense, van hier af sal opstaan. Van Suid Afrika sal dit dan versprei oor die hele Afrika en dan vanuit Afrika oor die hele wêreld na alle nasies.
Lyk dinge vir jou rof in Suid-Afrika? Hou moed en hou jou oë op Jesus en ons Vader! Elohim, die Skepper van alle dinge is aan die werk en die Almagtige Allerhoogste God, El Elyon, sal Sy planne ten uitvoer bring! Bly biddend en bly só betrokke by dit waarmee die Almagtige besig is!!
Stuur asseblief hiedie boodskap aan vir elkeen wat jy dink dit moet hoor.