Nou eendag sit ek en bid en ek loof en aanbid toe ons Vader omdat Hy heilig is. Soos die aanbidding uit my binneste woorde word, loof ek Hom toe vir die wonder daarvan dat daar niks in Sy wese is wat sleg of negatief is nie. Dink daaraan dat YHWH niemand kan te na kom of seermaak of slegte emosies of gedagtes oor enigeen huisves nie. Hy kan nie eers van enigeen vergeet nie!

Dink net, daar is géén slegte plekkie of beletsel of donker kant hoegenaamd aan Hom nie – en ek moes uitroep: Your beauty lies in Your holyness!! My Vader! U heiligheid bepaal die wonder van U skoonheid!

En skielik het ek ‘n beter verstaan ook van die natuur. YHWH Elohim gee tog uiting aan Wie Hy is, ook deur die natuur. Elke keer wat ek opkyk en die groen van die rante om Pretoria sien, en die eerste lig op die boomblare in ons tuin, en die skoonheid van ‘n roos en die roep van die Grys Loerie of die Piet-my-vrou, pluk die skoonheid van Wie Hy is, iets in my tot aandag.

Met dit alles in gedagte – dink weer aan Lev 20:7
“Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die HERE julle God.”

Wanneer die volmaaktheid van Sy heiligheid so voor jou kom staan, voel dit totaal onmoontlik om daarby uit te kom! Maar dan is daar weer genadiglik Jesus se woorde in Joh17:17
“Heilig hulle in U waarheid; U woord is die waarheid.”

Watter vreugde!! Ons ken die pad na heiligheid. Bly tyd spandeer in die Woord van God met die gebed dat Hy, terwyl jy lees, jou in Sy waarheid sal lei. Die waterbad van Sy Woord sal jou was, snoei, insig gee en vorm – jou help om van jou ou natuur ontslae te raak sodat Jesus meer en meer gestalte in jou kan kry.

Laat ons mekaar bemoedig op hierdie pad van heiligmaking.

Ken Sy stem en volg Sy vrede.

Delf Dieper

Kontak

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)83 292 5663

este@estegeldenhuys.co.za

Ekstra Skakels

Nuusbrief Aansluit