Jou omstandighede kan jou lam lê.
Daar is ‘n laaste gedagte oor hierdie gedeelte uit Jeremia 12 wat ek nie kan laat verbygaan nie.
Onthou dat Jeremia ontsteld is oor die seën wat na mense gaan wat in ongeregtigheid leef. Wanneer Vader hom antwoord, ignoreer Hy Jeremia se betoog en vra hom hierdie twee vrae:
Jer 12:5 As jy met voetgangers loop, maak hulle jou moeg: hoe sal jy dan wedywer met die perde? En in ‘n land van vrede voel jy jou veilig: hoe sal jy dan maak in die pronkbosse van die Jordaan?
Verlede week het ek dit gehad oor die intimidasie van mense wat ons uit ons roeping hou – wat die potensiaal gehad het om Jeremia uit sy roeping te hou. Daarop was die antwoord om so te fokus op Christus en Sy werking in ons en om ons, dat mense ons nie in ons spore sal laat stol nie.
Vandag die tweede deel van Vader se antwoord aan Jeremia – “En in ‘n land van vrede voel jy jou veilig: hoe sal jy dan maak in die pronkbosse van die Jordaan?”
Wanneer die Jordaan oorstroom het, het die water so hoog teen die walle opgestoot, dat die plekke waar dit veilige was om te stap, oorstroom was. Dan moes die mense hoog teen die helling stap, in die bosse, waar onder andere leeus gehou het. Die pronkbosse.
Dis of Vader vir Jeremia waarsku om te sê dat daar moeiliker kom, baie moeiliker tye. En die geskiedenis bevestig dit. Jeremia moes die wegvoer van die volk na Babilon beleef. Waarin lê die waarskuwing dan? Dat ons nie ons gevoel van veiligheid kan soek in die mate van vrede wat daar om ons in die land is nie. Die vrede moet in ons binneste kom lê, ons kan dit nie buite, om ons, soek nie.
Dawid het hierdie ding verstaan. Kyk weer wat hy uitgeroep het in Psalm 18:2 Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.
Peterson het dit as volg vertaal in die “Message” – vertaling:
Psa 18:1 … I love you, GOD– you make me strong.
Psa 18:2 GOD is bedrock under my feet, the castle in which I live, my rescuing knight. My God–the high crag where I run for dear life, hiding behind the boulders, safe in the granite hideout.
Psa 18:3 I sing to GOD, the Praise-Lofty, and find myself safe and saved.
Selfs midde in ‘n gewelidige oorlog, beleef Dawid die krag van die Almagtige God in hom – weet hy dat hy met hierdie God oor ‘n muur kan spring en ‘n bende kan stormloop! Die pronkbosse van die Jordaan sou Dawid nie stuit nie! Omdat Dawid vrede gehad het in God, was die vrede van God in Dawid en daarom het Dawid geen pronkbos gevrees nie.
Mag die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, ook vir my en jou so ‘n werklikheid word, dat niks wat in ons land of ons stad of buurt gebeur, daardie vrede sal kan wegneem nie. Wanneer ons sonder die vrede van God na ons land kyk, bedink ons dinge wat tot dood lei en spreek ons woorde wat nie lewe voortbring nie.
Suid-Afrika het die lewe van Christus wat in my en jou is, nodig sodat sy ‘n lig vir nasies kan word. Jesus se Lig in ons, wat die land om ons verlig. Moenie vir die pronkbosse skrik nie. Ontvang Sy vrede en versprei Sy lig!
Vader! In die Naam van Jesus bid ek dat ek dat ek deel van U oorwinning sal wees en sal bly!! Leer my om te leef met ‘n jubel op my lippe. En dat my gedagtes en woorde lewe sal voortbring en nie dood nie.