Steeds by die man van Betésda. Kom ons fokus hierdie keer op die omstanders se gedrag.
Joh 5:8 Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop. Joh 5:9 En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat. Joh 5:10 Die Jode sê toe vir hom wat genees was: Dit is sabbat; dit is jou nie geoorloof om jou bed te dra nie. Joh 5:11 Hy antwoord hulle: Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: Neem jou bed op en loop.
Kom nou! Ek kan nie dink dat die omstanders hierdie man nie herken het as die een wat agt en dertig jaar lank daar onder hulle voete by die bad gelê het nie. Iemand moes hom ten minste herken het! Al was dit die wat soos hy, daar bly lê het in die hoop dat ook hulle genesing sou ontvang.
Maar daar stap die man weg met sy bed onder sy arm. Onthou dat hulle beddens nie soos ons s’n gelyk het nie. Dit sou hoogstens ‘n mat gewees het wat hy opgerol het. Nogtans, volgens die wet was dit hom nie ge-oorloof om enigiets op die sabbat te dra nie.
Al waaroor die omstanders besorg was, was hulle godsdienstige reëls wat verbreek word!!
Niemand was saam met hom bly dat hy van sy siekte genees was nie. Niemand het genoegsaam omgegee om hierdie man te bemoedig vir die splinternuwe lewe wat hy op sy ouderdom nou moes begin oopkap nie. Mans het in daardie jare vroeg gesterf, dertig, miskien veertig … hierdie man moes, gemeet aan die standaarde van sy tyd, op ‘n baie hoë ouderdom ‘n beroep begin be-oefen. En niemand gee om vir hom nie! Mens wonder hoeveel van die mense wat hier teenoor hom gekla het, dalk gereeld vir hom ‘n stuiwer in sy armbeurs gegooi het!
Maar om ‘n geldjie in te gooi was makliker as om oor die mens besorg te wees. Hier kom iets in van “netnou moet ek dalk iets vir hom doen”!
Verder is daar die ontsaglike gedagte dat hulle godsdienstigheid so oorheers het, dat hulle die wonderwerk wat daar plaasgevind het, glad nie eers raakgesien het nie!
Is dit dalk die grootste moeilikheid – die Gees van godsdiens maak mos saam met die Gees van Isebel, die profete dood. Gees van godsdiens voed op regulasies en reg en verkeerd en “die selfgemaakte wette” wat roep dat ons net nog ‘n bietjie harder sal probeer, dan sal alles regkom. Die Gees van godsdiens smoor die Woord van Jesus, dit smoor Jesus wat Self die Woord is.
En dis so maklik om hierdie deel te lees en te dink – shame! Hierdie arme mense het nie van beter geweet nie. Maar tot watter mate heers godsdienstigheid nog in my en jou? Raak ons nie steeds agterdogtig oor ander wat aan ‘n denominasie behoort wat nie my voorkeur is nie? Neem ons ander kwalik wat hulle sabbat op ‘n dag vier waarmee ek nie saamstem nie? Wat hulle Sondag deurbring op ‘n manier waarmee ek ‘n probleem het?
Gebeur dit dalk met my dat my agterdog oor ander so groot word, dat ek die LEWE van Jesus in hulle nie eers raaksien nie!
Vader! In die Naam van Jesus bid ek … wees ons genadig! Mag ons U in alles eerste soek en raaksien. En dat ons nie die wonder van Wie U is sal ontken nie.