Ef 5:26  … nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,

Nou wat behels dit om voor Jesus te leef in waarheid?

Onthou dat daar in Joh 17:17 geskryf staan “U woord is die waarheid.” As die woord die waarheid is, is dit mos duidelik die plek waar ons moet begin as ons voor Jesus, of Yeshua wil lééf in waarheid.

Die eerste punt dus – spandeer tyd met die Woord van God. Kry ‘n vaste tyd van die dag om dit te doen, nie sodat dit ‘n ritueel word nie, maar sodat jy jouself kan dissiplineer om wel daarby uit te kom.

Wanneer jy gaan sit, bid eers en vra dat Vader jou sal ontmoet deur Sy Woord, bid dat die Woord jou sal aanspreek tot vernuwing, vra dat Hy dit wat jy vir hierdie dag nodig het om van Hom te hoor, sal raak lees en dat Hy dit Self vir jou sal oopmaak. Vra Hom sommer net soos ‘n kind en glo dan soos ‘n kind, sonder vraagtekens en “wonder wat nou”.

Lees dan die Woord. En nie soos in een teksversie nie. Lees ‘n hoofstuk of meer as dit moet. Lees om die breë prentjie te snap tot jy dit het. Kom dan terug na spesifieke teksverse waaroor ons Vader jou nuuskierig maak. Kry  vir jou ‘n boek waarin jy jou vrae kan neerskryf en soek dan die antwoorde. Soek in ander vertalings, in goeie verklarings, vra ander mense, maar raak nuuskierig oor die skatte wat in die Woord opgesluit is om ons lewens te verryk. Maar die Woord gaan jou ook aanspreek oor dinge in jou lewe, jou gesindheid en jou manier van doen, wat nie reg is nie. Jy sal weet wanneer dit gebeur. Dan moet jy in eerlikheid leer reageer daarop. Erken jou foute, bely dit. Vra om vergifnis en stel dit dan reg deur jou maniere te verander.

Kry vir jou ‘n Bybel program op jou rekenaar. Daar is meer as een. Ek gebruik e-Sword en vind dit baie goed. Daar is verduidelikings van name en uiteensetting van die geskiedenis, van mense en plekke en goeie verklarings van die Woord. Daar is plek om studie nota’s te maak en baie meer. Raak lief vir die Woord en laat toe dat die Woord met jou persoonlik praat – moet dit nie net altyd deur ander ontvang nie.

Onthou dat die Woord Jesus Self is. Jesus is ook die brood van die lewe. Die volk moes daagliks manna optel om te kon lewe. Manna beteken “Wat is dit?” Lees die Woord met hierdie nuuskierigheid en vra terwyl jy lees “Wat is dit?”

Laat toe dat die waterbad van die WOORD jou daagliks was.

Om in waarheid voor Yeshua te leef vra nog iets en dit gaan oor die vraag “Ken Hy jou?” Volgende week meer daaroor.

Delf Dieper

Kontak

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)83 292 5663

este@estegeldenhuys.co.za

Ekstra Skakels

Nuusbrief Aansluit