OM DIE HERE TE DIEN
En dan is daar proskuneo.
‘n Vorige week het ek belowe om daaroor te skryf en hier is dit nou.
Daar is ‘n kosbare boekie wat Graham Kendrick geskryf het wat hy eenvoudig noem “Worship”. Dis ISBN nommer van die boekie, indien jy wil soek daarvoor, is 0 86065 274 2 Ek moet waarsku dat die eerste druk reeds 1960 dateer. Dit is heel moontlik nie meer beskikbaar nie. Maar in hierdie boekie gee Kendrik ‘n kosbare verduideliking oor die begrip proskuneo.
In die eerste plek is dit belangrik om te noem dat, van die sewe Griekse woorde wat verwys na aanbidding, daar vyf is wat net een keer gebruik word in die Nuwe Testament, nog een word drie maal gebruik en dan proskuneo wat 59 keer gebruik word. Dit gee ‘n aanduiding van hoe belangrik die beteknis van hierdie woord is. Natuurlik is daar die woordeboek verduideliking van die begrip , maar dan is daar ook die “prentjie” verduideliking wat Kendrik gee:
Om proskuneo te kan toepas, is daar twee dinge wat jy moet weet en een ding wat jy moet doen.
Die eerste ding om te weet – Wie God is. Dit was toe ek hierdie toepassing begin maak het, wat ek God se Name begin ontdek het. Onthou YHWH Shalom en jy onthou dat Hy vrede is. YHWH Jireh – Hy IS voorsiening. El Elyon – Hy IS die Allerhoogste, Almagtige God. Maar nou onthou jy meer as net ‘n naam, dink aan die betekenis en gee dit in jou eie woorde aan Hom terug terwyl jy dit vir jouself op jou eie lewe van toepassing maak. Roep byvoorbeeld uit oor VREDE dat Sy vrede staan teenoor vrees, dit staan teenoor chaos en verwarring, dit staan teen onmin en jaloesie en agterbaksheid en jy sal nie anders kan as om uit te roep dat jy Hom as die God van VREDE erken en aanbid nie.
Die tweede ding wat mens moet weet – wie ek is. Sonder om ‘n “pity paartie” te hou, dink oor jouself en onthou dalk dat jy steeds nie volkome vertrou nie, dat jy steeds nie die vrug van die Gees leef teenoor almal by jou werk nie, dat jy steeds kwaad word vir die taxibestuurders of politici …
Met hierdie twee begrippe in jou gedagte, mag jy dan die “doen ding” doen: Gaan fisies op jou knieë terwyl jy besef dat jy in die Gees voor hierdie Almagtige Allerhoogste God kniel, buk dan in die gees oor en soen die hand van die Almagtige. Ten spyte van wie jy is, teenoor Wie Hy is, mag jy kom om Sy hand te soen. Dink aan die grootsheid van Sy genade en liefde … Sy begeerte om jou so na aan Hom te ontvang. Die eerste keer wat ek dit gedoen het, was die eerste keer in my lewe wat ek net stil was in gebed voor Hom. Sonder woorde. Sonder voorstelle of verwyte of kleinsielige begeertetjies … want Sy teenwoordigheid is groter as enigiets wat uit my hart of mond kan kom.
Daar is ‘n plek van ware stilte en vrede. Gaan soek dit. Toe.