2 Konings 5:13 Toe kom sy dienaars nader en spreek met hom en sê: My vader, as die profeet u ‘n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word? 2 Konings 5:14 Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van ‘n jong seun, en hy het rein geword.
Stel jou voor, die man is net minder as ‘n koninklike! Hy het al die geld wat nodig is om vir enigiets te betaal. Hy kom uit ‘n land waar alles op die hoogste vlak funksioneer, met selfs baie groter riviere as die Jordaan. En Elisa? In die eerste plek kom hy nie eerste te voorskyn nie. Hy praat nie eers persoonlik met Naäman nie, hy stuur ‘n boodskapper!
En die boodskap? Was jou sewe maal in die Jordaan.
Vreemd. Net so vreemd soos – gooi sout in die water, en die water hét soet geword. Net so vreemd soos – gooi ‘n stok op die water en die yster kop van die byl dryf op die oppervlak van die water saam met die hout. Net so vreemd soos – kry soveel kruike as wat jy kan en maak hulle vol olie, alles uit een klein houer met olie.
Die groot uitdaging vir Naäman, was om sy logika uit die pad te kry.
Ons kan nie die dinge van God met ons koppe uitredeneer nie. Waar dit by God kom, kan alles eenvoudig nie wiskundig of feitelik verklaar word nie. Ons moet leer om soos kindertjies net te glo en om dan te doen wat ons Vader ons vra om te doen.
Ken Sy stem, toets wat jy glo jy hoor en volg Hom … soos ‘n kindertjie.