Ons leef in ‘n tyd wat ongeregtigheid hand oor hand toeneem en ons moet fyn trap dat dit ons nie ook begin inneem nie.

Dink terug – toe taxi’s meer geword het, so ‘n klompie jare gelede, hoe ons kon kla oor die swak bestuurstyl van taxi bestuurders. Die ouens het woes oor rooi ligte gejaag en op gevaarlike plekke verby gesteek … en vandag? Vandag sien ek meer gewone motoriste hierdie dinge doen as wat ek taxi-bestuurders dit sien doen. Hoe sê hulle? Monkey see, monkey do?

Vraag is, pla dit my en jou, of doen ons mee! Onthou dat ‘n voël nie kyk waar hy vlieg nie, maar waar hy kyk, daar vlieg hy. Waar kyk ek en jy en waarop is ons gefokus? Psalm 119 is een lang rigtingwyser.  Kyk byvoorbeeld na die volgende paar verse:

Psa 119:33  HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.

Psa 119:34  Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.

Psa 119:35  Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ‘n behae.

Psa 119:36  Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie.

Psa 119:37  Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë.

Psa 119:38  Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees.

Let op die eerste woorde van elke reël:

“leer my die weg”

“gee my verstand”

“laat my wandel”

“neig my hart”

“wend my oë”

“maak my lewend”

“vervul aan u kneg”

Dit is my vaste oortuiging dat, as ons woorde soos hierdie voortdurend oor onsself bid, die Gees van Waarheid (wat ‘n Persoon is) ons in Sy groot genade sal waarsku wanneer ons vermeng word met ongeregtigheid.

Wanneer ongeregtigheid selfs ‘n groot toon in die deur kry, wurm hy homself al dieper in en voor ons ons kom kry, doen ons mee, want dit is waaraan ons gewoond raak. En hierdie waarskuwing gaan nie slegs oor verkeersreëls nie! Ons moet streef daarna om in elke area van ons lewe in eerlikheid voor Vader te kan staan, sonder iets wat pla.

Shalom vir jou

Delf Dieper

Kontak

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)83 292 5663

este@estegeldenhuys.co.za

Ekstra Skakels

Nuusbrief Aansluit