Om hierdie gesprek aan die gang te sit, moet ek kom met nog ‘n vraag. Het jy kinders? Of is jy ‘n kinders? Ja almal van ons is iemand se kind en daarom is ons “ ‘n kinders”. As ons weet van kinders, dan weet ons ook dat mens ouers en ouers kry net soos jy kinders en kinders kry.
Daar is ouers wat baie baie graag kinders wou hê en hulle toe gekry het. Daar is ander wat hulle net gekry het. Daar is ouers vir wie hulle kinders baie belangrik is, hulle stel belang en versorg en is betrokke en ander ouers is op ‘n misie slegs met hulle eie belange en ambisie en wonderlike geleenthede sonder om regtig aan hulle kinders aandag te gee.
Dan is daar kinders wat soos handskoentjies in hande met hulle ouers omgaan, gewillig, gehoorsaam en betrokke, kinders wat grootword met die lekkerte van alles saam met hulle ouers te doen omdat hulle respek het en omdat hulle nie anders kan as om hulle ouers in ag te neem nie want dis die tipe verhouding waarmee hulle grootgeword het. En dan is daar die kinders wat regtig nie ‘n saak het nie. Ek wil nie eers verder uitbrei nie, ons ken die teenoorgestelde prentjie.
Wat is die punt wat ek wil maak? Alles gaan oor verhouding. En verhouding word gebou op vertroue wat kom deur geslaagde kommunikasie. Verhouding groei deur gehoorsaamheid aan behoefte wat kom deur intimiteit waar twee mense mekaar waarlik ken en respekteer met die begeerte om mekaar te behaag.
Herstel uit die sondeval het nie net vir Adam en Eva geraak nie. Hulle en alle mense na hulle moes leer om in ‘n verhouding met die Almagtige te staan sodat vertroue, intimiteit en gehoorsaamheid, verpak in respek en agting en ontsag, by die mens geskep kon word. Die mens moes eers kom op ‘n plek waar hy besef dat hy God nodig het, meer as dit, dat die mens ‘n verlange sou ontwikkel om met God versoen te word.
Dit sou tyd vat, 2000jaar sou verloop voordat Vader-God dit goedgedink het om Sy Seun as die volmaakte versoening te stuur.
Nou is ons weer 2000 jaar weg en kyk waar staan die wêreld.
Waar staan jy?