Kyk weer na Johannes 5 en die verhaal van die siek man by die Bad van Betésda. Agt en dertig jaar is die siek man al by hierdie Bad van Betésda  waar hy hoop om eerste in die water te kom sodat hy kan genees. Ag en dertig jaar lank. Dis baie lank!  Maar Jesus sien hom raak … Joh 5:6  Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ‘n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word? Joh 5:7  Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ‘n ander een voor my in. Joh 5:8  Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop.    Afr Ou Vertaling

‘n Mens sou dink dat hierdie man ‘n meer eenvoudige antwoord sou gee op Jesus se reguit vraag – “Wil jy gesond word?” Daar is geen “rocket since” aan die vraag nie. Die man kon net ja of nee gesê het!

Wat sê hy dan eintlik met sy vreemde antwoord?  Ek probeer maar dit werk nie  Ek wil maar ek is altyd te laat  Niemand wil my help nie  Die lewe is onregverdig!  Dit gaan waarskynlik nooit vir my werk nie  Dalk moet ek maar net sowel ophou probeer …

Sjoe! Klink dit bekend?!

‘n Mens sal nooit weet waarom die man so lank moes wag voordat  LEWE in die vorm van Jesus by hom opgedaag het nie. Feit bly, Hy het opgedaag en toe Hy opdaag was hierdie man salig onbewus van die omvang van die LEWE wat hy op die punt was om te ontvang.

Ons wag en wag en wag ook – ook soms baie jare. Ons het die voordeel dat ons weet Wie Jesus as ons verlosser is. Mag ons fokus so op Hom gefikseer bly, dat ons sal weet wanneer Hy opdaag en dat ons sonder verwyt of enige selfbejammering van watter aard ook al, net sal kan uitroep:

 JA!!  EK  WIL  GESOND  WORD!!

Hoe lyk dit? Vertrou jy Hom vir daardie ding wat al so lank met jou saam kom, vertrou jy dat Jesus kan LEWE gee aan jou omstandighede? Wat antwoord jy? Wil jy “gesond” word?

Delf Dieper

Kontak

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)12 803 3277

+27 (0)83 292 5663

este@estegeldenhuys.co.za

Ekstra Skakels

Nuusbrief Aansluit